Ek is ‘n gebore stadsmens wat groot geword het in Kempton Park , Gauteng. Van dat ek ‘n potlood / pen kon vashou is ek al aan die teken. Die vroegste inspirasie vir tekeninge was die mens se gesig – want die oë is die vensters na die siel – en ek wou die mens nie net bloot herkenbaar oor teken nie maar iets van sy/haar persoonlikheid uitbeeld.
Verder het ek van jongs af ook diere, veral wilde diere, geteken. Dit is steeds ‘n voorkeur onderwerp vir my, moontlik omdat ek nie werklik diere kan troetel of vashou nie, weens gesondheidsredes. Die variasie van teksture en patrone wat lei tot unieke kenmerke van ‘n dier met ‘n eie karakter en persoonlikheid wat waargeneem kan word en die emosie wat hulle vertoon is ‘n onuitputlike bron van inspirasie! Ek dink hierdie waarneming dat diere hul eie karakter en emosies het is danksy die talle Disney animasies soos die “Lion King.”
Ek was altyd geïnteresseer in animasie – die feit dat elke raam geteken is was vir my ongelooflik! Maar gou het ek besef dat ek nie die temperament vir ontwerp / animasie het nie, want ek sal nie dieselfde karakter oor en oor wil teken nie! Ek kan dit egter steeds bewonder.
Op hoërskool los ek kuns vir musiek, maar teen matriek besef ek dat ek nie ‘n uitvoerende kunstenaar is nie! So begin ek in my Junie-vakansie ‘n portefeulje saamstel om aansoek te doen vir die studeer van Beeldend Kunste aan die Universiteit van Pretoria. Wat ek gelukkig ook kry!
Daar studeer ek onder mense soos Diane Victor. Van al my dosente dink ek sy het my die meeste ge-“push” om my grense te verbreed en nie te vrede te wees met die eerste en beste oplossing nie. Haar strewe om tegnies te ontwikkel en te verbeter het ‘n groot indruk gemaak wat ook by my die strewe sou aanwakker.
Na my studies het ek begin skoolhou – waar ek Kuns as Hoërskoolvak by verskeie skole aangebied het oor ‘n tydperk van 10 jaar. Die deel van my passie met jong ontwikkelende kunstenaars was vir my ‘n wonderlike ervaring! Alhoewel ek nie meer skoolhou nie, bied ek steeds privaat kunsklasse aan @Krabbelkrappies vir oud en jonk!
Die afgelope 10 jaar is ek ook voltyds kunstenaar in die mooi Tuin Roete, Mosselbaai. Hoogtepunte sluit in die skep van muurskilderye en portret-kommissies!
Studio besoeke kan gereël word by cr@crkuns.co.za
